Episodes

Friday Nov 19, 2021
Friday Nov 19, 2021
Die wyse waarop myne funksioneer is besig om radikaal te transformeer.
Digitale oplossings help om ’n mynbou-omgewing te skep wat veilig en volhoubaar is, met ’n geïntegreerde werksmag wat stimulerende take verrig.
Heinrich Becker is die Uitvoerende Direkteur en mede-stigter van Krypton Mining, ’n innoverende maatskappy wat spesialiseer daarin om wêreldklas digitale mynbou-oplossings aan die Afrika-mark bekend te stel.
Heinrich beskik oor uitgebreide ervaring in terme van besigheidsontwikkeling, en spesifiek die definiëring en implementering van besigheidsbevordering en optimiseringsinisiatiewe.
Volgens hom is behoefte-analise egter ‘n deurslaggewende stap wat geneem moet word alvorens ’n maatskappy op ’n tegnologiese oplossing besluit. Webwerf

Friday Nov 12, 2021
Friday Nov 12, 2021
Jacques Faul benodig geen bekendstelling as suksesvolle hoof-uitvoerende beampte van die Titans nie.
As iemand met ’n passie vir die bestuur van belangegroepverhoudings, is Jacques ook ’n akademikus van formaat, met ’n doktorsgraad in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en is hy onlangs aangestel as medeprofessor by die NWU Besigheidskool.Hy glo dat die besigheidskant van sport beslis kan baat by akademiese insette van ’n instansie soos die Besigheidskool.
Verder praat Jacques padlangs oor sy opspraakwekkende wedervaringe as waarnemende HUB van Krieket SA ’n paar jaar gelede, en lug hy die mening dat dit ideaal sou wees om sport en politiek heeltemal te kon skei. Maar is dit haalbaar? Webwerf

Friday Oct 08, 2021
Friday Oct 08, 2021
Die mens is nie veronderstel om ’n gevangene van ’n voorafbepaalde stel keuses te wees nie, aangesien die toekoms ’n magdom van uitkomste bied. Aldus Dr Cobus Oosthuizen, dekaan van die Milpark Business School in Johannesburg.
Cobus is ’n deskundige op die gebied van leierskap, entrepreneurskap en strategie. Die voltooiing van sy MBA aan die NWU Besigheidskool het Cobus se horisonne dramaties verbreed, en die droom om ’n besigheidskool te lei, en ’n agent van positiewe verandering te word, laat posvat.
Hy glo dat die leermeester self meer leer wanneer hy ander leer, en dat jy bloot ’n ontdekkingsreis fasiliteer wat ook jou eie intellek strek. Webwerf

Friday Sep 24, 2021
Friday Sep 24, 2021
Bemarking is nie bloot ‘n integrale deel van besigheidsukses nie.
Dit is die besigheid. Melanie van Rooy staan aan die hoof van bemarking by Clicks, en was vroeër in dieselfde hoedanigheid betrokke by sowel Makro SA as Dis-Chem.
Met ‘n doktorsgraad in ekonometrie, het sy ‘n passie vir bemarkingsanalise ten einde verbruikersgedrag beter te verstaan en bemarkingstrategieë te verbeter.
En, Melanie, wat ‘n paar jaar gelede by die dood omgedraai het vanweë ‘n gewas in haar kolon, beskou haar besluit om ‘n MBA te voltooi aan die NWU Besigheidskool, as die insiggewendste hupstoot vir haar loopbaan in die korporatiewe wêreld... Webwerf

Friday Sep 17, 2021
Friday Sep 17, 2021
Dis belangriker as ooit dat besighede hul denkwyses wysig om aan te pas by die nuwe normaal. Dit beteken dat die wonderlike wêreld van tegnologie optimaal benut moet word. Met ‘n kwarteeu se ervaring juis in die lewering van tegnologie oor ‘n verskeidenheid van industrieë, het De Wet Bisschoff homself onderskei as ‘n sakeleier van formaat in Afrika.
Met ‘n MBA verwerf aan die NWU se Besigheidskool, is De Wet die direkteur van Accenture se Afrika-operasies, en hy gesels onder andere oor die ongelooflike besigheidsgeleenthede wat voorheen onontginde lande soos Rwanda en Zambië bied. Webwerf

Thursday Sep 09, 2021
Thursday Sep 09, 2021
Pieter Geldenhuys is ‘n bekroonde akademikus en geleentheidspreker met ‘n uitgebreide kennis van innovasie, toekomstige tendense en tegnologiese ontwikkeling.
Sy gewildheid as spreker spruit uit sy vermoë om die verlede en hede te kombineer, ten einde ons in te lig oor die toekoms. Pieter is ‘n internasionaal befaamde futuris, en stigter en direkteur van die Institute for Technology Strategy and Innovation - ‘n organisasie wat top maatskappye help om hul innoverende potensiaal te ontgin.
Pieter het ‘n MBA verwerf aan die NWU Besigheidskool, en dien tans ook as dosent in Tegnologie Strategie aan die Besigheidskool. Webwerf

Thursday Sep 02, 2021
Thursday Sep 02, 2021
Dewald Olivier is sedert 2018 die hoof uitvoerende beampte van die SA Voerkraalvereniging, in welke hoedanigheid hy toesig hou oor die vereniging se werksaamhede ten einde nakoming en doeltreffendheid op alle vlakke te verseker.
Dewald het ‘n MBA met lof verwerf aan die NWU Besigheidskool, wat hy as ‘n bepalende ervaring beskryf, en dien ook as voorsitter van sowel die MBA Alumni-vereniging as die Adviesraad van die Besigheidskool.
As iemand met jarelange ervaring in die landbou-industrie, spog Dewald met ‘n bewese baanrekord in die omskakeling van besigheidsdoelwitte in strategieë en taktieke. Webwerf

Wednesday Aug 25, 2021
Wednesday Aug 25, 2021
Die Synthetic Latex Company (SLC) is ‘n sleutelspeler in die SA chemiese industrie. Besturende direkteur en mede-eienaar, Quentin van den Heever, vertel van SLC se oorsprong as ‘n gesamentlike onderneming met Rivertex SA in 1967, en hoe hulle hulself 50 jaar later as ‘n onafhanklike maatskappy kon posisioneer.
SLC spesialiseer in die vervaardiging van lateks polimere vir die verf-, konstruksie-, papier & bord- en mat & tekstiel-industrie, en het uitgebrei na chemiese verspreiding, geïntegreerde pakhuise, industriële skoonmaakdienste, tolvervaardiging, grootmaat stoor en stofonderdrukking.
Hulle beskik ook oor ‘n samewerkingsruimte, naamlik WorkZone@SLC, terwyl die Shared Services Company (SSC) ‘n opwindende inisiatief is wat korporatiewe dienste bied aan entrepreneurs. Webwerf

Wednesday Aug 04, 2021
Wednesday Aug 04, 2021
Volgens Cobus van der Merwe, stigter van Skudu, ‘n man met bykans 30 jaar se ondervinding in kommoditeite handel, voorsieningsketting en besigheidsbestuur, is daar twee aspekte wat van kardinale belang is in bemarking: bewuswording en tydsberekening.
Tegnologie speel ‘n al hoe belangriker rol om bemarkingsvraagstukke vir die boer op te los, soos Skudu se revolusionêre Match-toepassing, wat ‘n direkte skakel skep tussen boere en kopers van hul gewasse, en dus sowel bewuswording as tydsberekening aanspreek.
Verder werp Cobus ook meer lig op die kontroversiële onderwerp van vervoerdifferensiaal, ‘n tameletjie waarmee SA Landbou reeds vir die afgelope 25 jaar worstel.
Besoek hulle webwerf: https://skudu.co.za/ Webwerf

Wednesday Jul 07, 2021
Wednesday Jul 07, 2021
Koos Janse van Rensburg is ‘n gebore en getoë Vrystater, maar het, nadat hy sy BCom-graad aan UOVS verwerf het en 15 jaar as ‘n ouditeur in Betlehem gewerk het, etlike jare in die Wes-Kaap deurgebring, uiteindelik as bedryfsdirekteur van Kaap Agri.
Hy het 15 jaar gelede egter teruggekeer Vrystaat toe, toe hy as Besturende Direkteur van VKB in Reitz aangestel is.
Koos praat padlangs oor die 150-jarige geskiedenis van koöperatiewe landboubesighede, soos VKB, in Suid-Afrika, en hy wil graag sien dat VKB as maatskappy homself as die onbetwiste leier in plaaslike landboubesigheid vestig. Webwerf

Klipkouers is ‘n Besigheids Podcast waar Jacques Basson gereeld gesels met Afrikaanse entrepreneurs en impakmakers ten einde praktiese besigheids-en lewensadvies te ontgin. Besoek ons webwerf: www.klipkouers.com
Klipkouers is a Private Chamber of Commerce and Business Podcast. Jacques Basson regularly engages with Afrikaanse entrepreneurs and influencers to explore practical business and life advice.